'NIE aan ons, o Here , nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil.'
PSALMS 115:1
Alles en alle dinge moet strek tot die eer van die HERE se naam. Die eer kom Hom alleen toe, want God alleen is goed. Meer as dit nog, van die HERE kom alle goeie gawes en by Hom is daar geen skadu van verandering nie. Hy gee alles en so ook word die drang my opgelê. Of om dit so te sê: “Dit is God wat in my werk om te wil.”. Daarom is my bediening/rentmeesterskap geen ding waarop ek kan roem nie, want selfs die begeerte om dit te doen hang nie van myself af nie. Daar is geen roem of loon wat my toe kom nie want ek doen slegs wat my opgelê word om te doen. Daarna sal ek moet sê “Ek is ‘n onverdienstelike dienskneg”.
Van genade tot genade. Van begin tot einde is dit genade en moet ek wees soos ‘n kind in die arms van my hemelse Vader. Al groei ek op moet ek Hom altyd die vrees en eer gee wat Hom toe kom as my Vader en my Here. Daar is dinge wat my nooit sal toekom nie. My wysheid sal nooit my eie kan wees nie, maar die wat ek vind in Christus Jesus wat vir my wysheid is uit God. Hy rig altyd my hart. Hy alleen kan my bind, want Hy alleen kon en het my vrygemaak. Daarom is daar geen Here buiten my Here Jesus nie. Daarom sal ek ook nie myself verhef en my besig hou met dinge wat te hoog is nie. Meer nog glad nie met dinge wat Hy uitdruklik aan Homself toegeëien of my uitdruklik verbied het nie.
Die vraag sal dan ook altyd bly wat strek tot die grootste eer vir Sy naam? Want Sy naam moet geheilig word en Hy self sal dit heilig. Waar is dan my roem? My roem is in niks anders as in die kruis van Jesus Christus nie, want deur sy kruis is die wêreld vir my dood. Deur sy kruis is daar geen eer of heerlikheid wat my toe kom nie. Ek kan my eie lewe nie meer lief hê nie want ek is soos die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf. Sterf vir my eie eer en my eie wil en my eie begeertes. Hierdie lewe vanuit genade tot genade is alles behalwe passief. Die grond wat reën ontvang het moet vrug oplewer anders is dit baie naby aan die verderf.
Laat ons dan as gelowiges, as broers en susters alles doen tot eer van God. Laat die grootheid van sy goedertierenheid en trou dan in ons lewe ‘n werklikheid word!