Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here . Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.
DEUTERONÓMIUM 6:4-5
Ek is nie my eie nie. Ek behoort nie aan myself nie. Daarom kan ek ook nie doen wat ek wil nie. En hier stop die debat.
Die Here vra nie net ‘n deel van my geld nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my tyd nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my ywer nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my gedagtes nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my hart nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my lewe nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my nie.
Die Here vra nie net ‘n deel van my geld nie
Die Here vra nie net my tiende nie. Hy vra nie net ‘n stuk van my geld en die res behoort aan my nie. Nee, veel eerder behoort die aarde en die volheid daarvan aan Hom. Alles wat ek het en besit kom van Hom af. Alles wat ek het, het ek ontvang. Daarom wanneer ek, dit wat ek het, terug gee aan die Vader, gee ek iets terug wat die Vader vir my gegee het om oor te regeer. Iets waaroor Hy my aangestel het. Iets waaroor Hy my verantwoordelikheid gegee het en weer sal terug eis. Daarom alle geld, besittings of gawes wat gebruik word vir eie gewin of eie eer of eie begeertes is sonde. Alles wat ek besit moet so gebruik word dat dit dien tot eer en verheerliking van die Vader se wil en welbehae. My Vader weet wat ek nodig het; ek hoef my nie te bekommer oor dinge van die hedeine nie. Nee, allereers moet ek my beywer vir Sy koninkryk en Sy geregtigheid. Dus vra God alles wat ek besit. Hy vra my om alles prys te gee en Hom te volg.
Die Here vra nie net ‘n deel van my tyd nie
God vra nie net ‘n gedeelte van my tyd nie. Nee, veel eerder moet Hy ons leer om al ons dae te tel. sodat ons besef dat dit van korte duur is. Dat die dae boos is en ons ‘n wyse hart kort, om die tyd nie te vermors met ligsinnige praatjies en partytjies en om te eet en te speel en te drink nie. Hy vra nie net een dag van die week nie. Hy vra elke dag. Hy vra elke sekonde van elke dag gehoorsaamheid. Daar is geen sekonde wat aan jouself en jou eie goeddunke oor gelaat word nie. Nee, maar veel eerder om vervul te word met die Gees dat ons sodoende kan beproef wat die wil van God is. Om sodoende die tyd te kan opkoop en as ons iets doen, dit doen vanuit die krag wat God verleen. En as ons spreek, dat ons spreek soos woorde van God.
Die Here vra nie net ‘n deel van my ywer nie
Hy vra nie net ‘n gedeelte van my ywer en krag nie. Nee, veel eerder moet ek Hom dien met al my krag. Daar is nie enige krag of ywer of lus wat ek mag gebruik of aanwend om dinge te bekom wat die Vader nie van my vra of verwag nie. Buiten Hom kan ek niks doen nie en enige iets wat ek doen sonder Hom is ‘n misbruik van die krag en ywer wat Hy my gegee het. Dus vra die Vader alle ywer en alle krag om alleen aangewend te word tot Sy eer en volgens Sy wil totdat Sy koninkryk kom. Daar waar ek dus my krag en my ywer vir my eie dinge hou of nie al my krag gebruik om Hom te dien nie is sonde. Alle krag en mag behoort aan Hom en alle gesag en krag wat mense besit kom van Hom af. Daarom waar dit nie gebruik word soos Hy dit beveel volgens Sy woord nie is sonde en sal sekerlik gestraf word.
Die Here vra nie net ‘n deel van my gedagtes nie
Hy vra nie net ‘n deel van my gedagtes nie. Hy sê immers dat ons verander moet word deur die vernuwing van ons gemoed. En ook dat ons alles moet verwerp en afbreek wat opgerig word teen die kennis van God en elke gedagte gevange neem en dit bring tot die gehoorsaamheid aan Christus Jesus. Dus is dit nie net dat daar geen verkeerde gedagtes moet wees nie en of dat daar net sekere gedagtes op sekere tye of sekere dinge van die lewe is wat ons moet rig volgens God se woord nie. Nee, maar elke gedagte of dit is oor jou werk of kinders of wat jy eet of wat jy drink of hoe jy praat. Elke gedagte moet gerig word om God te eer.
Die Here vra nie net ‘n deel van my hart nie
Ek kan nie my hart verdeel en vashou aan wat ek wil en die Here wil nie. Ek kan nie lief hê wie en wat ek wil nie. Ek kan nie net doen wat my hart begeer nie. Eers moet ek my totaal en al verlustig in die Here. Hom lief hê en lief hê wat Hy liefhet en haat wat Hy haat. Dan as ek my verlustig in Hom en in Sy wet dan sal ek alles kry alles wat my hart begeer, want dan is dit ook alles wat die Vader begeer. Hy vra nie net my hart in sekere dinge nie, maar in alle dinge. ‘n Daad gedoen sonder ‘n opregte hart is nutteloos. Die Vader vra nie uiterlike skyn nie, maar eerder ‘n innerlike rein hart wat vanuit liefde met ‘n skoon gewete doen wat Hy vra. Hy vra selfs om jou vyande lief te hê. Die Vader vra jou hart in alles wat jy doen, ‘n daad gedoen sonder geloof is sonde en so ook ‘n daad sonder liefde is maar slegs ‘n klinkende simbaal.
Die Here vra nie net ‘n deel van my lewe nie
Ja kortom vra God jou hele lewe. Hy het jou gekoop en Hy is jou Here. En slegs wat Hy beveel is wat gedoen moet word. Net soos Christus Sy lewe en alles prys gegee het. So ook moet ons ons eie gedagtes en hart en wil en geld en tyd en ywer en liggaam oor gee aan die Vader. Sodat ons vanuit die liefde van Christus kan lewe. Ja ons moet alles as skade, alles as nutteloos en alles as uitwerpsels bereken. Dat ons sodoende in alles deur Christus vervul kan word. Ja, volgens sy ontferminge en sy barmhartigheid eis Hy van ons hierdie redelike/berekende/logiese godsdiens om ons liggame, alles wat ons is en het, te gee aan God as lewende en heilige en ‘n welgevallige offer. Ja, omdat Hy ons eerste liefgehad het en Homself gegee het as ‘n offer. Moet ons ook so nou vanuit Sy liefde, Hom ons naaste en ons vyande lief hê, met alles wat ons is en het deur dit te gebruik en te rig deur Sy woord en deur die krag van die Gees in geloof in Christus wat ons weer versoen het met die Vader. Hy is ons Verlosser maar ook ons Heerser en Koning en ons mag slegs doen wat Hy beveel.
En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
MATTHÉÜS 22:37-39