As ‘n vader na die vlees is ek konstant besig om my kind te vorm. Ek werk doelbewus daaraan om haar te laat ontwikkel om ‘n mooi mens te wees in die oë van die Here. Meeste daarvan verstaan sy nie nou nie, en sommige daarvan hou sy net mooi niks van nie, maar dit verander nie die feit dat dit vir haar beswil is en tot eer van die Here nie.
Ek maak natuurlik foute en kan baie verbeter. Maar daar is iets wat my gereeld tref: As ek wat dan so klein, swak, en sondig is, soveel omgee vir my kind en soveel moeite met haar doen – hoeveel te meer is die nie waar van my hemelse Vader nie!
Natuurlik is Hy aktief, doelbewus met my besig tot my beswil en tot sy eer. Hy is besig om my groot (volwasse) te maak, om my te laat ontwikkel, om slegte dinge uit my uit te kry en goeie dinge in my te vestig. Hy is besig om my ‘n kind te maak waarop Hy kan trots wees.
Dit beteken natuurlik dat daar gereeld dinge gaan wees wat ek nie verstaan nie of waarvan ek net mooi niks gaan hou nie. Elke keer as my kind ongelukkig raak oor ‘n goeie ding wat ek doen, dan sien ek maar net ‘n klein weergawe van myself en hoe ek teenoor die Here reageer. Dan raak ek weer opnuut dankbaar vir sy geduld met my, wat baie groter moet wees as dit wat ek nodig het met my kind.
In plaas daarvan dat ons ongelukkig raak met die Here wanneer Hy ons vorm, moet ons Hom vertrou, en dankbaar wees vir die groot voorreg om deur Hom onderrig te word.
Christen, jy het ‘n Vader in die hemel wat jou meer liefhet as wat jy kan begryp. Hy het jou eerste liefgehad. Hy sal jou altyd liefhê. Sy verstand is ver bo joune, en natuurlik gaan Hy dinge doen wat jy nie altyd verstaan nie. Maar dit waarmee Hy besig is in jou, sal mooi en kosbare vrug oplewer. Al is dit nie iets wat jou noodwendig nou bly maak nie, die eindresultaat sal beslis ‘n saak van groot vreugde wees.
5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? 10 Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. 12 Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; 13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Hebrews 12:5–13